Die laaste jaar of wat was, en hou aan om te wees, moeilik. Ek is diep oortuig van my roeping om vir God in die kerk te werk. Ten einde om te antwoord op die roeping het ek oor die laaste dekade van my lewe honderde duisende rande spandeer en baie uur opgeoffer. Elke sent en elke minuut was, en is, die moeite werd. Nou wag ek vir ‘n geleentheid om my roeping, passie, en gawes uit te leef, al meer as twaalf maande lank.

 Elke tweede week wag ek vir die Kerkbode om te sien waar nuwe poste oopgaan, elke tweede week doen ek aansoek vir poste in Gauteng, in die Kaap, in die stad, op die platteland, in Suid-Afrika, in Namibië, vir vol poste, kontrakposte, en jeugwerkposte. Saam met elke dekbrief wat geskryf word en elke CV wat by ‘n epos aangeheg word, ontstaan daar die hoop dat dit dalk die plek is waar ek en my vrou op ‘n besonderse manier deel van ‘n gemeenskap kan raak.

 En dan kom die ontnugtering. Meeste van die tyd word die aansoek nie eers erken nie, so 10 – 15% van gemeentes antwoord op die aansoek, en uiteindelik; die teleurstelling van ‘n onsuksesvolle aansoek. Weereens word dit in min gevalle gekommunikeer en moet ‘n mens maar in die Kerkbode lees dat die pos gevul is. Daar waar die “jammer-jy-is-onseksusvol-maar-die-Here-weet-waar-Hy-jou-wil-gebruik-briefie-seen-vir-jou-bediening-brief” wel kom verpletter die hoop van dalk-die-keer verpletter in ‘n jammer-jy-is-nie-goed-genoeg nie.

 En ja, ons almal verstaan dat baie mense aansoek doen, en ja dat elkeen nie noodwendig die regte fit is nie, maar dit is moeilik om dit nie persoonlik op te neem nie. Roeping en teologie is nie iets wat apart staan van ‘n persoon se diepste kern nie, altans nie vir my nie. My teologie kom vanuit my diepste oortuiging, my roeping is deel van my kern identiteit, en wie ek is en wat ek doen is die resultaat van my geloof in Christus en Sy werk in my lewe. So na ‘n jaar se onsuksesvol-briewe en geen antwoorde is dit baie moeilik om aansoek te doen vir nóg ‘n pos met die wete dat dit dalk kan einde in nóg ‘n nee.

 En dan die bemoedigende woordjies, “hou net aan hoop”, “hou net aan glo”, “die Here laat alles ten goede mee werk” ensovoorts. Dit help nie, dit werk nie. Na studieskuld en lewensonkoste en ‘n gebrek aan ander werk, as deel van die werklose statistiek, is ek finansieel kniediep in die moeilikheid en die uurglas se sandjies baie laag. Moed hou, aan hou glo ten midde van ‘n oenskynlik onafwendbare krisis, skuldgat, en op straat sit, en 62 siklusse van hoop en verpletterde hoop is ‘n baie waterige soppie.

 En natuurlik is daar die ander klompie stemme. “Dit is jou eie skuld”, “jy is nie betrokke by ‘n gemeente nie”, “gaan plant ‘n kerk”, “doen iets anders”, “gaan na jou ouerhuis toe en raak betrokke by jou tuisgemeente”, “proponent is te kieskeurig” en “jy wil nie werklik werk nie”, en “dit is nou maar hoe dit is, dit is die lewe” ensovoorts. Hoe genadeloos, sonder liefde, en arrogant kan ‘n mens raak. Niemand praat van proponent, soos myself, wat aansoek doen vir kelner werk, koffie rep werk, bel sentrum werk, HR posisies en vele meer nie. Niemand dink aan die proponent wat elke geleentheid om te werk aangryp nie, al is dit soos in my geval om, op ‘n maand kontrak, in ‘n industriele wassery te werk. Die vraag is uiteindelik wat is ek, en ander proponente bereid om te doen?

 Die antwoord is redeilk maklik, ons is bereid om enige iets te doen, om selfs uitgebuit te word. Ons wil dien, ons wil werk, ons wil antwoord op ons roeping. Ek byvoorbeeld, en ek is seker baie ander proponent, is bereid om as ‘n jeugwerker te werk teen ‘n klein salaries. Ek is nie ‘n student nie, ek het bietjie meer opleiding as hulle en selfs ‘n bietjie meer lewenservaring, maar nietemin is ek bereid om te werk teen ‘n student se salaries, want dit gee aan my ‘n stukkie menswardigheid terug. Ek is bereid om in gemeentes te werk teen ‘n kwart of ‘n derde salaries en nogsteeds ‘n voldag in te sit. Hoekom, dit help dit gemeente, dit gee my ‘n plek om my roeping uit te leef en te dien, dit gee ook ‘n stukkie menswardigheid terug. Ek is bereid om in ‘n kerkkantoor te werk, die vaktotum te wees wat so af en toe preek, ek is bereid om die dominee of dominees van die gemeente te ondersteun, ek is bereid om meer as een gemeente te dien wat nie ‘n dominee kan bekostig nie. Ons moet ook eet, maar geld is was nog nooit die oorweging vir dien nie. En as ek nie in die kerk werk kry nie, is ek bereid om enige iets te doen wat ‘n salarissie verdien, om in die eerste plek te dien in my familie, om te sorg dat my vrou en kind(ers) versorg is, om my roeping ten volle uit te leef in die kleinste en intiemste vorm van kerk.

 En dit is dalk die grootste frustrasie om te weet wat die diepte van my bereidheid is, om my tyd en energie selfs gratis aan te bied (wat ek en ander proponent al gedoen het), en nogsteeds nie ‘n geleentheid te kry nie. En na die soveelste onsuksesvolle aansoek kom die gedagte; dalk is die enigste uitweg die keuse is tussen selfmoord of die moord van roeping. Tog is selfmoord nooit ‘n opsie nie, en hoe vermoor ‘n mens ‘n roeping sonder om selfmoord te pleeg? En dan staan ‘n mens maar op in die oggend, struikel voort in die woestyn, en gaan slaap aan die einde van die dag met ‘n terugblik wat nog ‘n dag van genade en hoop openbaar. Maranatha