Category: Afrikaans


Aan Maretha: ‘n Troubelofte

Ek wens ek kon die volgende belowe, voorspoed, welvaart, en gesondheid. Dit is my egter nie beskore nie. Dit wat ek jou kan belowe is meer broos, meer weerloos, meer mensig.

 

Ek belowe jou Meisiemens, dat ek saam met  jou altyd mens sal wees.

Dat wanneer dit goed gaan, ek saam met jou sal lag.

Wanneer dit sleg gaan, ek saam met jou sal huil.

Wanneer jy alleen voel, ek jou sal vashou.

Wanneer jy ruimte nodig het, ek dit jou sal gun.

Wanneer jy ondersteuning nodig het, ek jou elke oomblik sal aanspoor.

Wanneer ons hoogtes beleef, ek dit saam met jou sal vier.

En wanneer ons valleie deur worstel, ek heeltyd jou hand sal vashou.

 

Ek belowe jou, mooiste mens, om jou deel te maak van elke deel van my wese;

My sterkpunte en my swakpunte,

My vrese en my hoop,

My vreugdes en my seerkry,

Van my trane en my lag.

 

Uiteindelik is al wat ek kan belowe ‘n leeftyd se reis saam met jou.

Ek belowe dat ek die reis met eerlikheid, opregtheid,  integriteit, deernis en liefde saam met jou sal reis.

Geskryf deur Fourie Rossouw

 Jy moet regtig lief he.
Delete jou junkmail folder gereeld.
Opgradeer jou anit-virus program.
Hou jou besig met goeie goed.
Nooi jou buurman oor vir ‘n braai.
As jy die sypaadjie voor jou huis se gras sny, sny jou buurvrou s’n ook.
Moenie opgee nie. Byt vas. Doen wat God van jou vra.
Wees opgewonde oor al die nuwe moontlikhede.
As dinge rof gaan, staan sterk.
Praat gereeld met God.
Help waar jy kan.
Deel uit wat jy het.
As iemand iets lelik aan jou doen, moet dan nie dink jy het ‘n rede om te skinder te nie.
Sommige mense is hartseer, ander is gelukkig. Leef altyd met deernis en empatie.
Moenie so windgat wees nie.
Luister vir ‘n slag.
Moenie jou swembadwater in jou buurman se groente tuin laat afloop nie.
As jou buurman ‘n poepol is, moenie jy dan ook een wees nie.
As dit vir jou moontlik is, probeer om van almal te hou.
Laat God worry oor hulle wat jou te na kom. Laat jou woede staan.
Maak vrede. Vergewe.
Wees ‘n geniunely nice teenoor hulle wat nie van jou hou nie. Niks is meer irriterend as dit nie!
Moenie dat die donker jou baas word nie.

Wees die donker se baas deur in die lig te lewe.

Beste NG teologie student by Tukkies,

Na aanleiding van Ferdie Mulder se stukkie raad aan jou het daar ook by my ‘n diep begeerte ontstaan om aan jou ‘n briefie te skryf. Van Ferdie kan ‘n mens sekerlik dieselfde toegee as wat hy met Dr André Bartlett doen, iemand wat reeds wyd en syd bekend is, nie net vir die gebeurtenisse van 2006 nie, maar ook as outeur en internasionale student.  Sy raad aan die einde van sy briefie is uitstekend en ek wil dit ten volle ondersteun, ek herhaal dit graag met ‘n klein beitjie kommentaar (telkens in hakkies):

“Paar wenke indien jy dalk belang stel:

1. Moenie ‘n lui student wees nie. Lees altyd weier as jou voorgeskrewe werk! (en moet nooit ophou nie, al is jy eendag klaar met jou grade, lees ook wetenskap, geskiedenis en sommer baie wyer as dit ook)

2. Werk kliphard in Grieks en Hebreeus – op die lang duur sal jy nie spyt wees nie! (Amen, onthou dit is antieke dokumente waarmee jy gaan werk!)

3. Moenie alles vir soetkoek opeet wat as die “nuwe konsensus”, “nuut” of “kreatief” voorgehou word nie. Hiermee saam: onthou, daar is vriendelike en aangename mense wat dinge glo en leer wat jy weet Jesus nie gelukkig maak nie. (moet NIKS vir soetkoek opeet nie)

4. Onthou: baie wêreldklas teoloë glo met integriteit in ‘n Jesus wat nie net mooi wyshede geleer het nie, maar ook maagdelik verwek is, gekruisig is vir ons sondes en opgestaan het teen die dood toe hy letterlik uit die graf opgewek is.  Gaan soek hierdie wêreldklas teoloë se boeke as dit nie voorgeskryf word nie. (wêreldklas teoloë gebruik gereeld dieselfde woorde met uiteenlopende betekenisse, maak seker jy weet hoe hierdie wêreldklas teoloë hul woorde gebruik, dit is waar van alle mense)

5. Soek daardie geestelike leiers op wat jou gaan aanspoor om regtig naby die Here te lewe en vrugbaar te wees in Sy Koninkryk. (akoord! Mentors is van kardinale belang.)

6. Die heel belangrikste: onthou jou daaglikste persoonlike stiltetyd met die Here. Dít het menige studente al deur moeilike tye gedra. (En stiltetyd beteken om soms heeltemal stil te bly, minder te praat, meer te luister, minder te jaag, meer asem te haal.)

7. Soms kos dit guts om alleen vir die Here op te staan. (Dit kos altyd guts om vir die Here op te staan, alleen of in ‘n groep, indien jy dit doen, mag jy dalk vervolg word)”

Deurlopend vra hy dat jy krities ingestel moet wees op dit wat jy gedoseer gaan word asook ten opsigte van dit wat jy gaan lees. Dit is sekerlik die grootste waarheid van alles. Uiteindelik is ‘n kritiese en oop gemoed een van die onontbeerlike stukkies gereedskap in die teologiese gereedskap wat jy in die komende jare gaan ontwikkel en leer om te gebruik. Jy word alreeds gevra om dit te doen in terme van Ferdie (en ook my eie) briefie.

Aangaande Dr André Bartlett se aanstelling. Daar is altyd diegene wat ongelukkig is met enige aanstelling, ongeag hul teologiese standpunte. Die teenoorgestelde “teologiese kamp” gaan amper altyd ongelukkig wees, maak nie saak of dit nou liberaal of konserwitief is nie. Wat belangrik is, is dat jy die moeite maak om elkeen van jou dosente en begeleiers persoonlik te leer ken. Ek het die voorreg gehad om by meer as een universiteit in Suid-Afrika te studeer en oor ‘n tydperk van meer as ‘n dekade. Die een ding wat ek weet is dat elkeen van die dosente wat ooit voor my in ‘n klas gestaan het opregte gelowiges is met ‘n diep begeerte om Christus beter te ken en te volg asook om die Woord van God beter te verstaan en dit van toepassing te maak vir die tyd waarin ons leef. Dit gaan uiteindelik ook jou werk wees as opgeleide teoloog in ‘n gemeente.

Wees versigtig vir die gebruik van terme soos “oud” en “nuut”, “liberaal” en “konserwatief” en ander kassies waarin ons graag mense en hul teologieë wil sit. Die lewe, asook die teologie is nie ‘n eenvoudige wêreld nie en die oomblik as ons iemand in ‘n kassie gesit het, hoor ons nie werklik wat hulle sê nie, maar dit wat ons onder die kassie verstaan.

Jy gaan nie met alles saam stem nie, dit is hoe dit hoort! Dit gaan van tyd tot tyd uiters moeilik en uitdagend wees, dit is hoe dit hoort! Jou geloof gaan uitgedaag word, dit is hoe dit hoort! Dit alles gaan maak dat jy groei, dit is ook hoe dit hoort! Onthou Ferdi se raad, in tye wat dit moeilik gaan, maak erns met jou stiltetyd, maak erns met jou studies, ek wil graag bylas, maak erns met jou verhoudings met jou dosente, veral met die wat jy verskil. Kry ‘n mentor, want ons hoort in ‘n gemeenskap en teologie, soos die lewe, is nie ‘n alleen-reis nie. En onthou altyd, wanneer jy lees, lees ook dit wat nie geskryf word nie raak.

Moenie ‘n kloon raak nie, groei, ontwikkel, lees, leer, dink en bid. Raak die persoon wie jy geskape is om te wees, ook in jou teologie, jy is uniek! En moenie vergeet nie, geniet kampus, geniet varsity, geniet een van die lekkerste tye van jou lewe, gryp dit aan, en gee altyd dankbare lof aan die Een wat vir jou die voorreg gun om die opwindende reis te onderneem.

Vriendelike groete

Hanno Langenhoven

BTh (Stellenbosch ’99-‘04); M.Div. (met lof) (Pretoria ’10-‘11); M.Th. (Pretoria ‘12)

 

Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Goeie nuus! Oorvloed. Die nuus raak in sekere opsigte nog beter vir ons, Jesus Christus, ons Heer en Verlosser het gekom om vir ons die lewe te skenk en dit in oorvloed.

Wie van ons wat hier sit word nie diep aangeraak deur die uitspraak nie? Hierdie is een van die tekste wat ‘n baie belangrike rol in my eie lewe speel, voortdurend word ek gekonfronteer met oorvloed, oorvloedige genade. Nie net is die teks belangrik in my eie lewe nie, dit is ook ‘n teks wat ‘n belangrike rol speel in die storie van die gemeente. Vier en ervaar, die leuse van die gemeente is op ‘n besonderse wyse aan die teks gekoppel. Ongeveer 3 jaar terug, gedurende ‘n tyd van onderskeiding, het die teks die gemeente gehelp om iets van die gemeente se storie, iets van die gemeente se geskiedenis, van die gemeente se huidige konteks en iets van die gemeente se toekoms te verwoord.

Die bekendheid van die teks en die metafoor skep egter ‘n gevaar. Dit kan daartoe lei dat ons nie meer erns maak met die teks nie, dat ons so terloops aanvaar dat ons WEET wat die Heilige Gees deur die teks wil doen, dat ons WEET op watter reis die teks ons vanaand wil neem. Met ander woorde, dat ons die reis KEN en WEET waar die bestemming is.

Die opwinding van die ruimte is dat die teks, nee dat die Heilige Gees, ons opnuut uitnooi om na die teks te luister. Om weer te herkou aan die teks. Ons reis as gemeente is nie beperk tot my reis met die teks nie, inteendeel, die Heilige Gees nooi ons elkeen uit om deel te neem aan die reis. Later in die diens gaan ons dan ook die geleentheid kry om die reis met die teks in stilte voort te sit.

Laat my toe om ‘n stukkie van my reis met die teks met julle te deel. Met ‘n belofte van oorvloed is die eerste vraag wat by my opduik, hoe moet ek dit verstaan; maak die belofte enigsins sin in die tyd en plek waar ek leef? 2000 jaar na Christus, op ‘n planeet wat uitgelewer is aan vernietiging, dood, armoede en aan die ander kant oordadige oorvloed, gemak en hebsug.

Ons ken almal hierdie twee kante van die lewe, altans ons ken sulke stories. Ons streef na die een, die ander probeer ons ignoreer.

Die een kant se storie word vertel in die gegloei van neon, in tydskrifte en op groot billboards. Top Billing en Pasella kom wys ons met smaak en styl hoe so ‘n lewe nou eintlik kan lyk. Groot huise, groot motors, eksotiese vakansies, inkopies in die vreemde en dit alles met styl en sjiek. Dit kom saam met die onderliggende boodskap van genoeg is nooit genoeg nie. Telkens na die soveelste advertensie of nog ‘n episode van een van die vertoon programme is daar so ‘n sagte, soms harder, versugting: “Sou dit nie lekker gewees het nie, so ‘n lewe van oorvloed.” Partykeer verskans ons die versugting so ‘n bietjie en wens ons vir net genoeg, genoeg om so ‘n lewe van oorvloed te lei.

Aan die anderkant van die spektrum is mense waar daar nie eers sprake is van genoeg nie. Daar waar ons bly is dit nie so maklik om die storie raak te sien nie, veral omdat ons so hard probeer om dit mis te kyk. So af en toe kry ons ‘n blik op die kant van die lewe as ons by die verkeerde verkeerslig moet stop of as ons deur ‘n middestad moet ry of as werk ons na een van die buite wyke van Suid-Afrika toe vat. Dalk kry ons dit reg om die realiteit in SA te vermy, maar word ons daarmee gekonfronteer as ons buiteland toe gaan op ‘n besigheidstoer of dalk met vakansie.

Daar is ‘n radikale verskil tussen die manier waarop mense, wat hulle aan verskillende kante van die spektrum bevind, “genoeg” en defnitief “oorvloed” sal definieer. Wanneer Jesus se dat hy gekom het sodat ons die lewe kan he en dit in oorvloed, twyfel of hy die oorvloedige oorvloed van Top Billing en Pasella bedoel het. Aan die anderkant is ek oortuig daarvan dat hy bedoel het dat die mense wat meer vertroud is met die ander kant van die lewe. In die gedeelte raak dit dan ‘n kritiese vraag na hoe ons oorvloed moet verstaan. ‘n Ander manier om hierdie vraag te vra is of materiele goed, oormaat of gebrek enigsins bydra tot die verstaan van oorvloed in die konteks van Johannes 10.

Dorothy Bass, in haar boek For life abundant, antwoord die vraag sommer op die eerste bladsy. Haar antwoord? Nee, dit gaan nie oor goed nie maar oor ‘n manier van lewe. Alles behalwe bevredigend, die antwoord laat ons net met ‘n volgende vraag, hoe lyk die manier van lewe? Ek dink die teks wil iets met ons hieroor deel.

‘n Lewe van oorvloed is ‘n lewe waarin Jesus erken word as die Herder en nie as ‘n rower en ‘n dief nie. Van die laasgenoemde kan niemand ons veel vertel nie. Ons het almal al te doen gehad of ken mense wat te doen gehad het met iemand wat ‘n huis of motor betree met die doel om te steel en te roof. Of dit nou ‘n oopgebreekte deur, ‘n stukkende ruit of ‘n uitnodigende skoorsteen is waardeur toegang verkry word, dit is telkens nie op die gewone manier om deur ‘n uitnodigende deur ingenooi te word nie. In die eerste gedeelte van die teks skets Jesus homself dan ook as die een wat deur die hek kom en sy skape een vir een op hul naam roep. Daar is ‘n bekendheid in die gedeelte. Die skape herken die herder se stem, die hekwagter herken die herder, en moontlik die heel belangrikste, die herder ken die skape op hul naam, op elkeen se naam.

Vir die persone in Jesus se gehoor het die vertelling van Jesus ‘n agtergrond, ‘n gelaagdheid wat maklik by ons kan verby gaan. Jesus se nie net iets oor homself nie, maar se ook iets van die religieuse establishment van die dag. Dit is amper onmoontlik dat Esegiel 34 nie soos ‘n muur van water oor die annhoorders van die metafoor breek nie. Wanneer Jesus homself as die Goeie Herder voorhou staan dit teenoor diegene wat die kudde skade wil berokken. Esegiel 34, ook verse 1-10, stel dit soos volg:

Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, tree op as profeet teen die herders van Israel, tree op as profeet en sê vir hulle, vir die herders: So sê die Here my God: Ellende wag vir die herders van Israel wat net vir hulleself sorg! Moet herders dan nie vir die kleinvee sorg nie? 3Julle drink die melk, julle maak vir julle klere van die wol, julle slag die vetste kleinvee, maar julle sorg nie vir die kleinvee nie. 4Julle het nie die swakkes gehelp nie, julle het nie die siekes gedokter nie, julle het nie die wonde van dié wat seergekry het, versorg nie, julle het nie dié wat weggedwaal het, teruggebring nie, julle het nie dié wat weggeraak het, gesoek nie. Julle was harde en wrede regeerders. 5Die kleinvee was sonder herder en het verstrooi geraak, en toe hulle verstrooi raak, word hulle ’n prooi vir roofdiere. 6My kleinvee het rondgewaal oor al die berge en oor al die hoë heuwels, hulle het verstrooi geraak oor die hele aarde en niemand het hulle gesoek of na hulle gevra nie.” 7Daarom, herders, hoor die woord van die Here: 8“My kleinvee is uitgelewer en het die prooi van enige wilde dier geword; hulle is sonder herder, sonder iemand wat na hulle soek; die herders het vir hulleself gesorg en nie vir my kleinvee nie. So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal die herders straf.” 9Hoor die woord van die Here, herders! 10So sê die Here my God: “Ek gaan optree teen die herders: Ek eis my kleinvee van hulle terug, Ek maak ’n end daaraan dat hulle die kleinvee se herders is, hulle sal nie herders bly net om vir hulleself te sorg nie. Ek sal my kleinvee red en hulle nie deur die herders laat opeet nie.”

Die herder wat deur die hek kom, kom dus met ‘n seker ingesteltheid. Dit is ‘n herder wat meer besorg is oor die kudde as oor sy eie lewe, hy loop vooraan die kudde en wanneer die kudde bedreig word, plaas hy homself tussen die gevaar en sy skape. ‘n Eerste beskrywing van ‘n lewe van oorvloed is dus ‘n lewe waar Jesus intens betrokke is. Dit is ‘n lewe wat geleef word in die eerste plek vanuit en in die tweede plek  in respons op Sy roepstem, ‘n lewe in navolging van Christus. Die oorvloed word gevind in die omgee van die herder. Is dit moontlik om hierna te luister en nie die vertroosting en hoop van Lukas 4 vers 18 en 19 te hoor nie.

 18“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, 19om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

 Nietemin, wat soos ‘n eenvoudige antwoord mag lyk, is in sekere opsigte onverstaanbaar. Altans, dit was vir diegene in Jesus se gehoor. Wat presies hulle nie verstaan het nie weet ons nie. Wat presies ons nie verstaan nie, is soms moeilik om te verwoord. Dalk is die rede hiervoor dat ons die uitspraak van Jesus op so baie verskillende maniere verkeerd verstaan of dalk omdat die ander stemme wat ook woorde soos oorvloed gebruik harder en met meer oortuiging gebruik.

In respons hierop brei Jesus die metafoor uit, of eerder zoom hy op een aspek van die vorige beeld in en brei daarop uit. In een van die minder bekende “Ek is”-uitsprake vergelyk Jesus homself met die ingang, die hek van die kraal. Net soos die eerste helfte van die metafoor verwys Jesus weer na die rowers en diewe, die keer almal wat voor hom gekom het. Dit is moontlik om die “almal” ook te verstaan in die lig van Esegiel 34. Almal is dus diegene wat Jesus voor afgegaan het, maar wat anders as hy, die volk mislei en uitgebuit het. In sommige opsigte is dit maklik om die gedeelte te verstaan in konteks van iets wat die skape moet doen, kies om deur die hek te gaan of nie. In lig van die metafoor vermoed ek egter wil Jesus uitbrei op iets wat hy reeds oor homself gese het, naamlik dat hy die herder is. Die gebruik van skaapwagters in die Ou Nabye Ooste was om skape te lei eerder as aan te jaag. Teen skemer se kant sou dit dus ‘n natuurlike gesig gewees het om te sien, ‘n herder wat self, met ‘n trop skape agter hom aan, tot binne die kraal stap. Sommige herders het die gewoonte gehad om self as hek te dien en in die gaping van die kraal te slaap. Op die manier het die skaapwagter dan ten alle tye geweet wat met sy skape aan die gebeur is, miskien ‘n bedreiging, siekte of geboorte. Die herder was altyd naby. Nie net ken hy sy skape op hul naam nie, maar elke minuut van sy dag word spandeer aan hul welsyn.  ‘n Lewe van oorvloed kan op die manier verstaan word as ‘n lewe waarvan elke oomblik deur Jesus ondervang word.

Met die paar gedagtes as agtergrond en met die wete dat God in Jesus hom met ons elkeen bemoei, is die vraag waarmee ons elkeen gekonfronteer word: herken ons nog die stem van ons herder? Wat se die manier en die plekke waar ons stap van die herder wat ons volg?

 Ons reis met die teks is nie klaar nie; God nooi ons uit om te bedaar, om stil te word en om in sy teenwoordigheid, by stille waters, te rus.

Reduce, Re-use, Recle.

Eet minder! Ry minder! Koop minder! Upgrade minder! Vergeet om as maatstaf die Geldenhuise (Jones’s) te gebruik. Bou kleiner! Sit ligte af! Sit die radio af as niemand luister nie! Dra klere langer! Begin ‘n wurmplaas en groentetuin. Gooi die swembad toe!

Verraai jou ego, spyker dit teen die kruis. Ons ego’s verg energie en energie veroorsaak ekstra CO2 wat die toekoms van ons kinders en verseker hulle kinders bedreig. Raak deel van die gesprek!

Hou op om dwars te trek om jou eie gemaksone te beskerm, die planeet is in die gemors en ons is die oorsaak. Rook minder! Eet minder vleis (moeilik vir ons Suid-Afrikaners!). Moenie met die 4×4 die kinders by die skool gaan haal of inkopies gaan doen nie, ons paaie is nie so sleg nie!

Maar nou ja, die goed kom te naby aan ons lyf; so wie stel belang? Ons gefokus op ons self, te hel met ons kinders. Wanneer hulle swaarkry is ons al dood! (‘n Argument wat meer as een persoon al actually teenoor my gebruik het).

Ons bely Christus, self-opofferende liefde is ‘n waarde van Hom, maar vir is dit een te veel gevra. Dit is mos maklik, se ek glo en dan kan ek maak wat ek wil, leef soos ek wil, want ek glo en is deur genade alleen gered. Ek wonder of Paulus of Jakobus sou saamstem? A person is not defined by the cover but by his actions (Megamind). Is it possible that our faith is also defined by our actions? (James of te wel Jakobus)

En ons keuse is? Onthou dit word bely deur ons dade!