‘n Jeugwerker in ‘n Afrikaanse gemeente. Moontlik is daar twee benaderings, iemand wat dit doen bloot net as ‘n werk, en iemand wat leef met ‘n liefde en passie vir God, kinders en jong mense as sy/haar kern. Ek vermoed dat net die tweede persoon werlik ‘n jeugwerker in die ware sin van die word kan wees, of soos Robert Frost sê “[The] object of living is to unite, avocation and vocation, only where love and need is one, the deed is ever really done, for Heaven and the future’s sakes.”

Ek is nie seker of ons altyd weet wat ‘n jeugwerker moet doen nie. In die eerste plek sien ek iemand wat bereid is om tyd saam met kinders en jong mense te spandeer, om werklik na hulle te luister. In tweede plek sien ek ‘n jeugwerker as iemand wat die volgende van nature doen:

  • Die beskerming van die verwondering en onskuld van elke kind en jong mens,
  • Die skep van ‘n veilige ruimte waarbinne kinders en jong mense hulself kan wees,
  • Die skep van ‘n veilige ruimte waarbinne kinders en jong mense hul seer kan deel,
  • Die skep van ‘n veilige ruimte wat kinders en jong mense help om heel te raak,
  • Die skep van ‘n ruimte waarbinne kinders en jong mense konkreet God se liefde onvoorwaardelik kan ervaar.
  • Vermoedelik ‘n ruimte waarbinne daar minder gepreek en meer gewees moet word.

‘n Jeugwerker met ‘n liefde vir God, kinders en jong mense as kern kan nie anders as om moeite te maak om die konteks(te) en metafore van die kinders en jong mense te leer ken nie, asook dieselde energie aan die dag lê om God se betrokkenheid by hulle raak te sien. Dit is wanneer die persoon God se teenwoordigheid en betrokkenheid by die kinders en jong mense as’t ware ontdek dat hy/sy sinvol met hulle kan praat oor hul ervaring van God. Dit raak dan nie ‘n preek van bo af nie, maar ‘n deel van elke eie storie, ook die storie van die jeugwerker.

Ek dink dit is die enigste outentieke benadering tot jeugbediening, een waar die kinders en jong mense gesien word as kerk in eie reg, met real belewenisse en ‘n struggle om dit altyd te verwoord. Dit lei tot die vraag wat my dryf, hoe is ons kerk vandag sodat ons kinders, wat vandag dalk 4 of 5 is, nog oor 30 jaar gaan glo? Dalk is die vraag vir my van soveel belang omdat my eie seuntjie amper 6 jaar jonk is. Dit is dus ‘n diep persoonlike vraag, hoe leef ek vandag my geloof uit sodat kinders en jong mense oor 30 jaar nog gaan glo. Die ander kant van die muntstuk is vir my, hoe maak ek my geloof tasbaar in my lewe sodat my kind en ons kinders dit kan beleef en ook hul geloof tasbaar wil maak in hul lewe tot ‘n boodskap van hoop in die wêreld.

Advertisements