Beste NG teologie student by Tukkies,

Na aanleiding van Ferdie Mulder se stukkie raad aan jou het daar ook by my ‘n diep begeerte ontstaan om aan jou ‘n briefie te skryf. Van Ferdie kan ‘n mens sekerlik dieselfde toegee as wat hy met Dr André Bartlett doen, iemand wat reeds wyd en syd bekend is, nie net vir die gebeurtenisse van 2006 nie, maar ook as outeur en internasionale student.  Sy raad aan die einde van sy briefie is uitstekend en ek wil dit ten volle ondersteun, ek herhaal dit graag met ‘n klein beitjie kommentaar (telkens in hakkies):

“Paar wenke indien jy dalk belang stel:

1. Moenie ‘n lui student wees nie. Lees altyd weier as jou voorgeskrewe werk! (en moet nooit ophou nie, al is jy eendag klaar met jou grade, lees ook wetenskap, geskiedenis en sommer baie wyer as dit ook)

2. Werk kliphard in Grieks en Hebreeus – op die lang duur sal jy nie spyt wees nie! (Amen, onthou dit is antieke dokumente waarmee jy gaan werk!)

3. Moenie alles vir soetkoek opeet wat as die “nuwe konsensus”, “nuut” of “kreatief” voorgehou word nie. Hiermee saam: onthou, daar is vriendelike en aangename mense wat dinge glo en leer wat jy weet Jesus nie gelukkig maak nie. (moet NIKS vir soetkoek opeet nie)

4. Onthou: baie wêreldklas teoloë glo met integriteit in ‘n Jesus wat nie net mooi wyshede geleer het nie, maar ook maagdelik verwek is, gekruisig is vir ons sondes en opgestaan het teen die dood toe hy letterlik uit die graf opgewek is.  Gaan soek hierdie wêreldklas teoloë se boeke as dit nie voorgeskryf word nie. (wêreldklas teoloë gebruik gereeld dieselfde woorde met uiteenlopende betekenisse, maak seker jy weet hoe hierdie wêreldklas teoloë hul woorde gebruik, dit is waar van alle mense)

5. Soek daardie geestelike leiers op wat jou gaan aanspoor om regtig naby die Here te lewe en vrugbaar te wees in Sy Koninkryk. (akoord! Mentors is van kardinale belang.)

6. Die heel belangrikste: onthou jou daaglikste persoonlike stiltetyd met die Here. Dít het menige studente al deur moeilike tye gedra. (En stiltetyd beteken om soms heeltemal stil te bly, minder te praat, meer te luister, minder te jaag, meer asem te haal.)

7. Soms kos dit guts om alleen vir die Here op te staan. (Dit kos altyd guts om vir die Here op te staan, alleen of in ‘n groep, indien jy dit doen, mag jy dalk vervolg word)”

Deurlopend vra hy dat jy krities ingestel moet wees op dit wat jy gedoseer gaan word asook ten opsigte van dit wat jy gaan lees. Dit is sekerlik die grootste waarheid van alles. Uiteindelik is ‘n kritiese en oop gemoed een van die onontbeerlike stukkies gereedskap in die teologiese gereedskap wat jy in die komende jare gaan ontwikkel en leer om te gebruik. Jy word alreeds gevra om dit te doen in terme van Ferdie (en ook my eie) briefie.

Aangaande Dr André Bartlett se aanstelling. Daar is altyd diegene wat ongelukkig is met enige aanstelling, ongeag hul teologiese standpunte. Die teenoorgestelde “teologiese kamp” gaan amper altyd ongelukkig wees, maak nie saak of dit nou liberaal of konserwitief is nie. Wat belangrik is, is dat jy die moeite maak om elkeen van jou dosente en begeleiers persoonlik te leer ken. Ek het die voorreg gehad om by meer as een universiteit in Suid-Afrika te studeer en oor ‘n tydperk van meer as ‘n dekade. Die een ding wat ek weet is dat elkeen van die dosente wat ooit voor my in ‘n klas gestaan het opregte gelowiges is met ‘n diep begeerte om Christus beter te ken en te volg asook om die Woord van God beter te verstaan en dit van toepassing te maak vir die tyd waarin ons leef. Dit gaan uiteindelik ook jou werk wees as opgeleide teoloog in ‘n gemeente.

Wees versigtig vir die gebruik van terme soos “oud” en “nuut”, “liberaal” en “konserwatief” en ander kassies waarin ons graag mense en hul teologieë wil sit. Die lewe, asook die teologie is nie ‘n eenvoudige wêreld nie en die oomblik as ons iemand in ‘n kassie gesit het, hoor ons nie werklik wat hulle sê nie, maar dit wat ons onder die kassie verstaan.

Jy gaan nie met alles saam stem nie, dit is hoe dit hoort! Dit gaan van tyd tot tyd uiters moeilik en uitdagend wees, dit is hoe dit hoort! Jou geloof gaan uitgedaag word, dit is hoe dit hoort! Dit alles gaan maak dat jy groei, dit is ook hoe dit hoort! Onthou Ferdi se raad, in tye wat dit moeilik gaan, maak erns met jou stiltetyd, maak erns met jou studies, ek wil graag bylas, maak erns met jou verhoudings met jou dosente, veral met die wat jy verskil. Kry ‘n mentor, want ons hoort in ‘n gemeenskap en teologie, soos die lewe, is nie ‘n alleen-reis nie. En onthou altyd, wanneer jy lees, lees ook dit wat nie geskryf word nie raak.

Moenie ‘n kloon raak nie, groei, ontwikkel, lees, leer, dink en bid. Raak die persoon wie jy geskape is om te wees, ook in jou teologie, jy is uniek! En moenie vergeet nie, geniet kampus, geniet varsity, geniet een van die lekkerste tye van jou lewe, gryp dit aan, en gee altyd dankbare lof aan die Een wat vir jou die voorreg gun om die opwindende reis te onderneem.

Vriendelike groete

Hanno Langenhoven

BTh (Stellenbosch ’99-‘04); M.Div. (met lof) (Pretoria ’10-‘11); M.Th. (Pretoria ‘12)