Archive for March, 2014


Vertaal vanaf Ash Wednesday (Jim Burklo)

Op my voorkop

‘n Teken van die kruis

Gesmeer in as vanuit die vuur

Wat my hubris-paleis afgebrand het

 

En, saam met dit,

Die geld wat ek weg moes gee,

Die TV wat ek as sintuigverdower gebruik het,

Die tapyt waarop ek veronderstel was

om op te verskyn,

Die deure wat ek vir veronderstel was

om vir ander oop te maak,

Die koeverte wat ek veronderstel was

om vir liefdesbriewe te gebruik

Die wyse boeke wat ek so oop en bloot uitstal,

om die illusie te skep dat ek dit gelees het,

Die lee spasies in my fotoalbums,

waar my donkerder, swaarder, seerder oomblikke onthou moes word,

Die kalenders waar besoeke aan die wat dit die meeste nodig gehad het,

geskeduleer moes word,

Die rusbank van my verlamende oorgerustheid,

Die gemakstoel van my luiheid,

Die hemde wat ek volgestop het met my eie trots,

Die skoene wat ek met ander moes ruil,

sodat ons gereisde myle kon deel.

Op my voorkop

‘n Teken van die kruispad,

Waar ek kan wegdraai van die pad van verderf,

Na die Weg van die Lewe.

(vertaling deur Hanno Langenhoven)

Verwerk vanaf Ash Wednesday (Jim Burklo)

 

Liturg:            Op my voorkop

Gemeente:    ‘n Teken van die kruis

 

Liturg:            Gesmeer in vuur-verteerde as

Gemeente:    My afgebrande hubris-paleis

 

Liturg:            En ook veras, die geld

Gemeente:    Wat ek weg moes gee,

 

Liturg:            Die TV

Gemeente:    My keuse vir sintuigverdowing,

 

Liturg:            Die tapyt

Gemeente:    Waarop ek eintlik moes verskyn,

 

Liturg:            Die deure

Gemeente:    Wat ek eintlik vir ander  moes oop maak,

 

Liturg:            Die koeverte

Gemeente:    Wat ek eintlik vir liefdesbriewe moes gebruik het

 

Liturg:            Die uitgestalde boeke

Gemeente:    My gefeinsde aanspraak op insig

 

Liturg:            Die ongebalanseerde fotoalbums,

Gemeente:    My vergete oomblikke van swaarkry en mislukking

 

Liturg:            Die leë kalenders

Gemeente:    My versuimde afsprake aan die in nood

 

Liturg:            Die rusbank

Gemeente:    Van my verlamende oorgerustheid,

 

Liturg:            Die gemakstoel

Gemeente:    Van my luiheid,

 

Liturg:            Die hemde

Gemeente:    Persoonlik volgestop met eie trots,

 

Liturg:            Die ongeruilde skoene

Gemeente:    en ongedeelde reise saam met ander.

 

Liturg:            Op my voorkop

Gemeente:    ‘n Teken van die kruispad,

 

Liturg:            Waar ek kan wegdraai

Gemeente:    van die pad van verderf,

Gemeente:    Na die Weg van die Lewe.

 

(verwerking deur Hanno Langenhoven)